Thursday 26 January 2017

Oud onnie en leerling vandag boesemvriende.



Oom Jan (links) saam met Carel Dannhauser
Carel Dannhauser is alombekend in Witrivier en die Laeveld. Dié afgetrede sakeman, eertydse burgemeester van Sabie en Witrivier, en steeds kranige motorverkoopskonsultant, skryf sy sukses grootliks toe aan die grondslag wat beide 'n eertydse onderwyser en sy ouers gelê het.

Volgens dié onderwyser, oom Jan Struwig, was Carel voorbeeldig tot die dag dat hy en 'n paar ander seuns die lugdrukpype tussen die passasierswaens van die trein waarmee hulle elke dag skool toe moes ry, ontkoppel het en hulle toe laat by die skool aangekom het. Maar behalwe om te bloos wanneer 'n mens verder oor Carel se streke uitvra, word daar niks verder gepraat nie.

Oom Jan, wat weens finansiële redes nie ná matriek kon gaan studeer nie, het met die hulp van verskeie mense, 'n klerkpos by die Landdroskantoor in Middelburg gekry en hiervaandaan vorentoe het hy elke geleentheid wat na sy kant toe gekom het, aangegryp. Hy het onder andere later vir BA Regte ingeskryf (buitemuurs) en sommer met die intrap, al vyf sy eerstejaarsvakke geslaag. Toe ontmoet hy 'n nooi Johanna - "'n mooi meisie met 'n rooi bloesie" (seg Oom Jan) - in Waterval Boven. Sy was 'n onderwyseres.

Hy het sy regskursus se vakke aangepas, die graad voltooi en toe, nadat hulle getroud is, sy onderwysdiploma binne 18 maande en na-ure deur Normaalkollege voltooi. Sy eerste onderwyspos (1956) was in Waterval Boven en dit is hier waar hy vir Carel klas gegee het tot in matriek. Dié klas het verskeie toekennings deur die jare verwerf en onder andere ook 'n studiefonds gestig om kinders te help. "Die respek en deernis waarmee Oom Jan elke kind, ongeag sy of haar vermoë behandel het, is steeds vandag in my geheue vasgevang," vertel Carel.

Die twee het mekaar twee jaar gelede in 'n plaaslike sakesentrum raakgeloop en maande later was hulle op 'n bustoer Kaap toe. Vele gonsgroepies later word daar nou soos ware deur-dik-en-dunvriende gekuier. Sit hulle langs mekaar aan die kombuistafel, is daar eenvoudig geen einde aan die warmhartstories en onnutsighede nie.


Maar ja, toe is dit tyd vir Oom Jan om my eers bietjie aan die natuurskoon op sy klein plasie net buite Nelspruit te gaan voorstel.

Oom Jan was ook vise-hoof van 'n landbouskool waar daar, soos op 'n plaas, nie van kantoorure gepraat word nie. Dit was plaas-pligte van dou voor dag, skool en dan weer plaaspligte tot laataand. En om 'n lang storie kort te knip, Oom Jan word uiteindelik die hoof by Hoër Tegniese Skool Springs (HTS).

HTS Springs se personeel met Oom Jan voor in die middel. 

Met 'n personeel van 82 en twee adjunkhoofde, was HTS ook een van die eerste skole in die land wat as gevolg van dié onderwyser se visie, 'n rekenaarsentrum gekry het. "Dit is hier waar ek besef het watter wonderlike geleentheid 'n tegniese skool vir leerlinge bied. Wiskunde en, Natuur en Skeikunde, wat beide universiteitstoelatingsvakke was, was verpligtend."

Oom Jan vertel - so met 'n ondeundheid in die oog - hoe hy by geleentheid 'n bullebak in C-baan en by 'n ander geleentheid, 'n weerstandige jong onderwyser tot orde geroep het. Agter 'n geslote klaskamerdeur - baadjie en das uitgetrek - het hy agter sy appels (vuiste) gaan staan en die knape uitgedaag om wat hulle probleem ook al was, met hom uit te pluis. Geweldadig was dit toe nie. Want sien, dié meneer se blatante astrantheid was net te veel vir dié mannetjies se konstitusies en hulle het terstond hul houdings verander. Die goeie ou dae né?

Opening van die rekenaar sentrum
Nou ja - myse ma sê, as jy met waardigheid kan oud word en leef, dan was die ou dae, swariggeit en als, inderdaad goed, ja...